Beeld article about the art of curries


Ken die kuns van kerrie

2011-09-28 23:00
Moenie dat kerrie jou intimideer nie, beproef ’n bietjie iets nuuts. Foto: Thinkstock
Vir baie is die kerrie-en-rys op die kerkbasaar en ouma se geel hoender hul enigste ervaring van geurige kerriegeregte.

Hulle vermy eerder die Indiese restaurante met die Taj Mahal- dekor, Boeddha-beelde en windklokkie-musiek op die agtergrond.

Die verskillende wierook- en speserygeure kan ’n mens oorweldig nog voordat jy die “vreemde” geregte op die spyskaart gesien het. Tog het kerriegeregte se gewildheid die afgelope paar dekades baie toegeneem en pas elke kultuur sy speserye aan om by sy unieke smaak te pas.

’n Dis om te deel
Volgens me. Zara Kara, hoofsjef en mede-eienaar van die Karma- Indiese restaurante, verstaan die meeste mense nie die fyn kuns agter Indiese speserye en kooktegnieke nie.

Sy gebruik die thali as ’n voorbeeld van ’n gereg wat ’n verskeidenheid streekgeregte bevat.

“ ’n Thali is ’n verskeidenheid geregte wat op ’n vlekvrye staalbord met katori’s (klein bakkies) bedien word. Die katori’s bevat verskillende geregte wat voedingswaarde, tekstuur, geur en kleur aan tradisionele Indiese maaltye verskaf.

“Die thali in verskillende streke van Indië bestaan uit geregte eie aan daardie streek. Die Goedjarat- thali het byvoorbeeld farsans (vegetariese peuselhappies), groente, chapati’s (platbrood), rys, slaaie en ingelegde suurtjies.

“In die suide verskuif die klem na ryslekkernye en groente.”

Die beste manier om ’n thali aan te pak is om ’n klein porsie kos van ’n individuele gereg langs die rys te skep en dit dan met die rys te meng. Herhaal dié proses telkens om die geur van elke gereg op sy eie te waardeer.

“Besoekers word aangemoedig om nie meer as een gereg op ’n slag met die rys te meng of die rys in die individuele bakkies te meng nie,” sê Kara.

Roti’s en naan-brood word saam die gereg geniet deur ’n stuk af te breek en van die kos daarmee op te skep.

Gesondheid sonder rondheid
Verskeie navorsingstudies dui daarop dat kerrie kan help om vetsug en sekere siektes te voorkom, insluitend kolonkanker en Alzheimer se siekte.

Daar word ook gesê dat die liggaam se pynreseptor-reaksie op kerrie se warm bestanddele help om endorfiene af te skei wat dit ’n kragtige wellusprikkelende uitwerking gee.

Navorsers aan die Universiteit van St. Louis in die VSA het ook bevind borrie kan ’n sekere soort lewersiekte voorkom. Borrie is dikwels die hoofbestanddeel in kerrie en gee dit ’n kenmerkende geel of oranje kleur. Dit is ook sterk anti-inflammatories en help die lewer skoon hou en artritis behandel.

Kaneel is ’n natuurlike antioksidant en is voordelig vir die vel en spysvertering. Kardemom hou ook voordele vir spysvertering in en kan maagkrampe, hardlywigheid en disenterie behandel.

Rissies is ryk aan vitamien C en pro-vitamien A, wat albei voordelig vir die vel en gewigsverlies is. Dit bevat ook B-vitamiene wat stres verlig.

Koljander help met angs en slapeloosheid terwyl komyn die simptome van asma verlig en die immuunstelsel versterk.

Moet ook nie die voordele van klappermelk vergeet wat by die meeste kerriegeregte gevoeg word nie. Klappermelk help bou aan die immuunstelsel en hoewel dit baie versadigde vette bevat, kan dit jou help om gewig af te skud. Die vette bestaan uit kort en lang vetsuurkettings wat die liggaam gou in energie omsit eerder as om dit as vet te berg.

Groen, geel of rooi?
Hoewel kerries in verskillende kulture en op spyskaarte kan verskil, is dié ’n eenvoudige gids van wat groen-, geel- en rooikerrie behels:
  • Groenkerrie: Bevat tradisioneel baie vars groenrissies, salotte, wortels en suiker-ertjies.
  • Geelkerrie: Bestaan hoofsaaklik uit aartappels, uie, wortels en ertjies. Dit is die matige kerrie-opsie.
  • Rooikerrie: Dikwels baie swaar gegeur met rooi soetrissies, tamaties, tamatiepasta, en rooi rissies (of minstens rissie- of rooipeper) word bygevoeg.
– Bykomende bronne: AFP; Go Media

Praat saam 
Voorgereg:
  • Pakora – ’n Pannekoekie met groente of vleis; heerlik saam met blatjang.
  • Poori – Diepgebraaide platbrood .
  • Kebab – Pasteitjie met gemaalde lamsvleis en speserye.
Hoofgereg: 
  • Brijani – Geurige, saggekookte vleis met rys en speserye.
  • Karahi – Geroerbraaide vleis (in wok-styl) en groente met ’n bietjie room.
  • Korma – ’n Baie matige kerrie wat gewoonlik met saffraan gekleur word om ’n romerige geel sous te maak.
  • Vindaloo – ’n Baie warm rissie-en-suurlemoensous.
Bygereg: 
  • Aloo – Geurige aartappels wat soms saam met blomkool en brinjal voorgesit word.
  • Saag – Gaar spinasie wat dikwels opgesny en saam met paneer, ’n Indiese maaskaas, bedien word.
  • Raita – ’n Mengel van jogurt, speserye en komkommer wat as doopsous dien en baie help om branderigheid te neutraliseer.
Nagereg: 
  • Kheer – ’n Ryk ryspoeding.
  • Ras malai – ’n Romerige poeding van ricottakaas en suiker.
  • Kulfi – Indiese roomys wat van romerige melk gemaak word.
  • Guab jamnu – Diepgebraaide melk-en-suikerbolle wat in ’n suikerstroop gedoop word.

No comments:

Post a Comment